Namibia Rugby
News Report

Eerste dag lewer fees soos min

Author: Tielman van Lill, 09/08/19

Skolerugby

Die eindstryde van die Momentum Raadsbeker vir skolerugby het Vrydag afgeskop toe die spanne van Toyota Gobabis Gimnasium en Dr. Lemmer (o.14B-liga) om 15:00 uitgedraf het.Dr. Lemmer het wel die eerste drie punte met 'n strafdoel in die openingsminute van die botsing behaal en 'n drie gedruk wat oorgeskop is om rustyd met 10-0 voor te loop. Die voorspelers van Gobabis, onder leierskap van die seweflank Dandré du Plessis, het in die tweede helfte 'n stewige fondasie vir 'n oorwinning van 19-17 gelê het om die o.14B-titel op te raap.

Gobabis het Christiaan Barnard, sy stewige agtsteman en kaptein, binne die eerste minute verloor wat sy voorspelers ritme laat verloor het. Die spanpraatjie met rustyd deur mnr. Tony Tripodi (skoolhoof) en sy afrigtingspan het egter die gewenste uitwerking gehad.

Ná rustyd het Du Plessis en sy mede-Bulletjies die leisels stewig vasgevat om die vlugvoetige agterspelers van Dr. Lemmer in toom te hou en voorlangs te oorheers. Terwyl Lemmer net sewe punte met 'n drie in die tweede helfte kon behaal, stapel Gobabis 19 punte op wat drie vyfpunters en twee doelskoppe insluit.

Punte, Dr. Lemmer, drieë deur agtsteman Ashwan Loxton en skrum­skakel Jason Isaacs. JP van Wyk slaag met een strafskop en twee doelskoppe. Gobabis Gim, een drie elk deur Elle-Jay August, Irohan Human en Luan Oosthuizen. Doelskoppe deur Dandré du Plessis (2).

Die voor- en agterspeler van die wedstryd is Irohan Human en Elle-Jay August, beide van die wenspan.

Republikein

2 Views