Namibia Rugby
News Report

Finaliste se ambisie ontmoet in Superliga

Author: Andrew Poolman, 03/08/19

Skolerugby

Die beproefde wenresepte het grootliks behoue gebly in die spankeuse van die twee fina­liste vir môre se Momentum onder 19 Superliga-eindstryd, KMC/JCC Windhoek Affies as huidige titelhouer en Rubicon Tsumeb Gimnasium, wat die seisoen boaan die puntelys afge­sluit het.Die flank Frikkie Engelbrecht, wat met sy vurige inklimspel dikwels die vonk in Tsumeb se gedugte pak voorspelers verskaf, het 'n noue ontkoming gehad toe hy in die doodsnikke van die semifinaal teen Samsung WHS 'n rooi kaart gekry het.

Engelbrecht moes vandeesweek saam met sy hoofafrigter, mnr. Wouter Niehaus, wéér na die hoofstad reis om sy tugverhoor by te woon, nadat skeidsregter Oscar Lambert hom afgestuur het vir die gebruik van 'n knie in die gesig van 'n WHS-opponent.

“Ek is baie bly dat Frikkie (as matriekseun) hierdie groot finaal kan meemaak. Die verhoor het in 'n baie goeie opvoedkundige gees geskied en dit het versagtend in sy guns getel dat hy 'n eerste oortreder was wat nog nooit tevore 'n kaart gekry het nie,” het Niehaus agterna gesê.

Die enkele verandering aan Affies se beginspan is op haker, waar Christo Boshoff eerste opdraf terwyl laas naweek se draer van trui nommer 2, Benno von Wielligh, op die reserwebank reg is om later opgestuur te word.

Boshoff het vandeesweek net betyds vir die groot geleentheid uit Amerika teruggekeer, waar hy sedert middel verlede maand in Houston, Texas 'n opleidingsprogram van Nasa se ruimteskool bygewoon het.

Op papier is daar min te kies tussen WAP en Tsumeb en die ou cliché van 'n finaal het dus gewis nog nie sy betroubaarheid verloor, dat die span wat sy geleenthede benut as die wenner uit die stryd sal tree nie.

Windhoek Affies het net 'n enkele ligapunt agter Tsumeb geëindig. Hul ontmoeting in die ligaseisoen was op die noordedorp, waar Tsumeb met 21-10 gewys het hoe moeilik dit is om sy tuisvoordeel daar te gaan beduiwel.

Beide spanne sal daarop ingestel wees om geskiedenis vir hul skole te skryf. Windhoek Affies het verlede jaar die eerste maal sy naam op die wentrofee laat aanbring, ná 'n enkele vorige nederlaag in die finaal teen die WHS-span van 2016.

Vir Tsumeb Gimnasium bly een, hoë hekkie in die pad van die eerste nasionale rugbytriomf in sy bestaan. Die stut Hans Breedt was in 2015 die kaptein toe die maroen Renosters in hul eerste o.19 Superliga-eindstryd gehaal, maar deur Windhoek Gimnasium geklop is. In nog twee jare (2014 en 2017) was Tsumeb in die bronsfinaal betrokke.

Republikein