Namibia Rugby
News Report

Leeus, Affies blaas in Tsumeb se nek

Author: Tielman van Lill, 13/07/19

Rugby

Die eerste span van OK Foods Moria Privaatskool van Outjo het Saterdagmiddag so byna daarin geslaag om die Leeutrop van die Schoemans-groep Windhoek Gimnasium se sterte in sy eie Leeu-kuil te knoop.Hoewel Gimnasium vier drieë teen drie gedruk het, kan hy tevrede voel om sy veldtog met ses oorwinnings uit agt kragmetings in die rondomtaliegroepfase in vanjaar se Momentum o.19-premierliga af te sluit.

Die besoekende Bere het dié seisoen maar nog min geluk beleef, maar rustyd het hulle met 14-10 voorgeloop nadat hulle ná 22 minute met 14-5 voor was.
'n Besluit waaroor Moria beslis agterna sou moes nadink, was toe hulle met drie minute speeltyd in die eerste helfte oor, nie vir 'n maklike strafskop pale toe gemik het nie. Die lynstaan van waar die besoekers die doellyn van die gasheer wou aanval, was 'n flater toe hulle besit verloor het en dit het die Leeus opnuut uit hul greep laat ontsnap.

Vir Moria kon die tweede helfte nie beter begin het nie. Sy eerste vyfpunter word skaars vier minute ná die afskop netjies deur Ivan van Wyk, sy agtsteman, geplant wat suksesvol deur hul blink losskakel DJ Holtzhausen verdoel word om 21-10 voor te loop.

Dit sou egter die Bere se laaste punte vir 'n hele rukkie wees, want die Leeutrop word deur die aansluiting van stut Ethan Thiart versterk en die gasheer druk kort daarna en volg dit op met 'n drie deur die slot Michael Thuynsma. Met twee Bere op sy rug is hy oor die doellyn om die telling met 21-22 in hul guns te swaai.

Met 'n skrale sewe minute op die stophorlosie oor, wou dit inderdaad lyk of die Outjo-span dalk hul eerste oorwinning van die 2019-seisoen sou smaak toe Holtzhausen suksesvol met 'n strafskop tref (24-22).
Maar soos in ander naelskraapse nederlae vanjaar word Moria se hoop deur Cornez Liebenberg, Gim se los­skakel, verydel toe hy die finale drie punte in die Leeus se agtste en finale groepwedstryd aanteken.

BESERING

James Heyman, kranige slot van Gimnasium, het waarnemers groot laat skrik toe hy met 'n nekbesering van die veld gehelp is. Heyman wat kreunend van die pyn langs die veld gelê het, se nek is gestabiliseer waarna hy met 'n draagbaar na die wagtende ambulans gedra is.

Skanderings asook X-strale is van sy besering geneem wat bevestig het dat niks gebreek is nie.
“Gelukkig is niks ernstigs in sy nek of rug beseer nie. Sy ma sal ons nog laat weet hoe hy vorder, maar sover is dit al inligting wat beskikbaar is,” het een van die span se afrigters aan Republikein laat weet.

Puntemakers: Vir die Bye gaan druk senter Niel Holtzhausen (2) en agt­steman Ivan van Wyk, terwyl DJ Holtzhausen al drie verdoel en met 'n strafskop slaag. Die Leeus se vier vyfpunters word deur regtervleuel Mell Theunissen, plaasvervanger Keanan Januarie, oopkantflank Ethan Rittman en loskopslot Michael Thuynsma aangeteken. Cornez Liebenberg slaag met een doel- en een strafskop.

• In die ander botsing waar PSG Pro-Ed Akademie by die onoorwonne voorloper Tsumeb Gimnasium in die noorde moes gaan kuier het, het Pro-Ed reeds Donderdag onttrek.
Gevolglik is drie ligapunte by die Swakopmunders afgetrek.

AFFIES MAAK OPGANG

Verlede Woensdag het die eerste span van KMC/JCC Windhoek Afrikaanse Privaatskool vir Gim 1 op sy tuisveld met 39-24 gaan afransel.
Dit was Affies se vyfde sege uit ses wedstryde, met hul enigste bloedneus op Tsumeb. Komende Woensdag moet afrigter Johan Zaayman se ysters hulle teen die Koedoebulle op die FNB Vegkopstadion teen WHS laat geld, met min ruskans voordat hulle Saterdag vir Pro-Ed Akademie by Affiespark in hul laaste groepwedstryd inwag.

Affies 1 het vyf drieë teenoor die Leeus se drie ingeryg, met Jonathan Hanekom, Keanu Engelbrecht, Arthur Lewis, Louis Karsten en André Siepker wat die doellyn oorgesteek het. Engelbrecht slaag met twee straf- en vier doelskoppe om sy persoonlike bydrae tot 19 punte op te stoot.
Die Leeus se punte het van Mell Theunissen, Zander Bronkhorst en Lean Rossouw gekom wat elk een keer gaan druk het. Losskakel Cornez Liebenberg verdoel drie keer en slaag ook met 'n strafdoel.

• Die huidige puntestand in die premieliga: 1 Tsumeb Gimnasium 63 punte (7 wedstryde), 2 Windhoek Gimnasium 60 (8), 3 Affies 48 (6), 4 WHS 45 (6), 5 Walvisbaai PHS 36 (6), 6 Moria 31 (7), 7 Pro Ed 30 (6), 8 Elnatan 27 (7), 9 De Duine 22 (7).