Namibia Rugby
News Report

Oorlewing op die spel vir WHS, Walvisbaai

Author: Tielman van Lill, 25/07/19

Rugby

Rugbyspanne van altesame 21 skole vanoor die land sal vandag en môre in die hoofstad by die Hage Geingobstadion asook by Windhoek Gimnasium se veld saamtrek vir die kwarteindronde van die 2019 Momentum-ligas vir hoërskole.Die opwinding skop reeds vandag om 14:00 by die Hage Geingobstadion af en sal môreoggend om agtuur by Gimnasium in Kleine Kuppe en om 09:00 by die Geingob-stadion voortgesit word.

Hoewel die seuns vanaf die o.14- tot o.19-ligas dit om 'n plek in die semifinale gaan uitspook, is dit beslis die botsing môre om 15:20 by die stadion tussen Samsung Windhoek Hoërskool se Koedoebulle en Namib Diesel Walvisbaai Privaat Hoër­skool se Naartjies wat die meeste belangstelling wek.

Die Koedoebulle en Naartjies het ná agt groepwedstryde van die Momentum o.19-premierliga onderskeidelik vierde (59) en vyfde (50) op die punteleer geëindig. Hul uitspeelstryd môre is om die wenner te bepaal wat tot die semifinaal sewe dae later teen die eerste geplaaste Rubicon Tsumeb Gimnasium (66 punte) deurdring.

Die verdedigende kampioen KMC/JCC Windhoek Affies (tweede, 65) en die Schoemans-groep Windhoek Gimnasium Leeus (derde, 60) loer reeds vir mekaar in die ander halfeindstryd.

Die Koedoebulle en Walvisbaai het in Mei vanjaar hul liga-ontmoeting by WHS se FNB Vegkopstadion gehad. Hoewel die Naartjies die kragmeting met 26-23 gewen het, het die ligbloues in die laaste minute hard en vinnig teruggeslaan en so byna die eindtelling in hul guns geswaai.

WHS het ook verlede naweek op Vegkop gewys wat hy kan doen toe hy Tsumeb Gimnasium met 46-20 oordonder het. Selfs die strafskoptelling van 9-3 teen WHS kon nie die seuns se geesdrif en konsentrasie verbreek nie.
Hierteenoor het die Naartjies se veldtog effens ontspoor toe hulle in hul voorlaaste groepwedstryd teen Pro-Ed Akademie met 24-22 vasgeval het. Die manne van Walvisbaai beskik oor 'n giftige agterlyn met gevaarlike snellers en spelskeppers wat van enige plek op die veld 'n aanval kan loods.


Republikein

2 Views