Namibia Rugby
News Report

Superliga se finaliste soos die meeste voorspel het

Author: Andrew Poolman, 02/08/19

Skolerugby

Windhoek Afrikaanse Privaatskool se eerste rugbyspan se vordering na komende naweek se finaal van die Momentum onder 19 Superliga is geen geringe prestasie nie – met 'n bielie van 'n wedstryd nou teen Rubicon Tsumeb Gimnasium in die vooruitsig.

In vele waarnemers se oë sal Tsumeb straks as gunstelinge uitdraf nadat hulle boaan die puntelys geëindig het, met net 'n enkele nederlaag in hul laaste ligawedstryd by FNB Vegkop wat eintlik reeds van min betekenis was.

Tsumeb se magtige agttal was Saterdagaand opnuut 'n groot faktor toe die noordespan wraak teen Samsung Windhoek Hoërskool geneem en met 32-21 gewen het.

In die vorige aand se eerste semifinaal het Windhoek Affies reeds deurgedring met 'n ewe klipharde oorwinning van 20-12 teen Schoemans-groep Windhoek Gimnasium.

Affies, geborg deur Khomas Medical Centre en JC Construction, het verlede jaar die skool se geskiedkundige eerste titel as nasionale o.19-kampioen verower, nadat hulle een keer tevore die eindstryd gehaal en teen WHS verloor het.

Afrigter Johan Zaayman sê nadat Affies 13 spelers uit verlede jaar se senior groep verloor het, moes daar hergroepeer word. “Dit het eintlik bo verwagting goed gegaan dié seisoen en ek is dus baie tevrede met hoe ons onder meer 'n paar wegwedstryde gewen het.

“Vir enige skool is dit altyd 'n groot droom om 'n nasionale titel te verdedig. In uitspeelwedstryde kan enigiets gebeur en die bal kan enige oomblik verkeerd wip, so geluk speel beslis 'n rol.”

Vrydagaand het Windhoek Gimnasium die voortou geneem toe die regtervleuel Mell Theunissen van die tienmeterlyn af deurgebreek het vir 'n onverdoelde drie.

Halfpad deur die eerste helfte is Gimmies se Samuel Poulton egter in die middelveld uit die bal geduik, wat deurgeskop is en in Gimmies se kwartgebied deur Affies se losskakel Keanu Engelbrecht teruggewen is. Die losskrum naby die doellyn is vinnig gewen en skrumskakel Louis Karsten was daar om die drie te druk.
Engelbrecht se doelskop het WAP met 7-5 voor geplaas, wat oomblikke voor rustyd met nog drie punte aangegroei het met nog 'n strafdoel (rustyd 10-5).

Skaars drie minute ná die hervatting het nog 'n keerpunt aangebreek toe Affies 'n opportunistiese tweede drie gedruk het. Naby die halflyn het Gimnasium 'n lynstaan gewen en het die vaskopstut Ethan Thiart as die stormram in die losskakel-kanaal gebruik.
Thiart kon die aangee egter nie raakvat nie, wat reguit in die hande van die aankomende Bernhardt Wessels gespat het vir die Affies-agtsteman om die wedloop doellyn toe te wen sonder dat iemand 'n hand op hom kon lê.

Met Engelbrecht se doelskop het daar op 17-5 daglig tussen die punteverskille begin ontstaan. Hoewel Gimnasium halfpad deur die tweede helfte sy senter Samuel Poulton vir 'n drie oorwerk het van 'n tikskoppie naby die doellyn (verdoel deur Cornez Liebenberg), was die enigste bykomende punte in die oorblywende tyd nog 'n strafdoel deur Engelbrecht.

Affies se skrumskakel Louis Karsten is agterna as die speler van die wed­stryd aangewys.

Dit was die vierde opeenvolgende kragmeting waarin Affies teen Gimnasium koning gekraai het. Dit het verlede jaar met die ligawed­stryd begin (40-8), gevolg deur die dramatiese eindstryd (26-25) en vroeër vanjaar se liga-ontmoeting (39-24).

Affies se enigste nederlaag vanjaar was juis op Tsumeb (10-21), wat soveel meer afwagting vir die vooruitsig van komende Saterdag se eindstryd help skep.

Republikein

1 Views