Namibia Rugby
News Report

Superliga se finaliste soos die meeste voorspel het

Author: Andrew Poolman, 03/08/19

Skolerugby

Rubicon Tsumeb Gimnasium en KMC/JCC Windhoek Affies het nie net die Momentum o.19-seisoen boaan die puntelys afgesluit nie, maar het die naweek ook beide hul semifinale beklink om seker te maak dat hulle mekaar komende Saterdag in ’n opwindende eindstryd sal ontmoet.Tsumeb se magtige pak voorspelers het Saterdagaand selde hul greep laat verslap op pad na hul oorwinning met 32-21 teen Samsung Windhoek Hoërskool.
Rustyd was die noordespan, met ’n stewige reisende ondersteunersgroep agter hulle, reeds met 20-7 in beheer van sake.

Halfpad deur die eerste helfte het Tsumeb ’n slag op hul eie tienmeterlyn ’n lynstaan gewen en daarmee gemaaldryf tot binne WHS se kwartgebied, voordat die beweging gestuit is. Dit op sigself vertel van die uitdaging aan enige span wat die maroen truie vanjaar van die trofee wil weghou.

Die senter SJ Louw is as die speler van die wedstryd aangewys vir sy twee drieë wat WHS se buitekans op ’n verrassing laat verflou het. Vir sy eerste drie was daar ’n tikkie geluk by, toe losskakel Bothma Keyser se skop vorentoe halfpad afgestorm is, maar tog in heelagter Lister Cochrane se pad beland het, wat Louw los deur pale toe kon stuur.

Met strafdoele deur Keyser weerskante van dié verdoelde drie, het Tsumeb dertien punte gehad voordat WHS op die telbord kon kom met ’n drie deur die haker JC Rossouw, wat deur heelagter Geraldo Beukes verdoel is.

Kort voor rustyd het Tsumeb se kaptein en flank WJ Otto ’n bres geslaan voor die volgende fase waar SJ Louw met ’n individuele breekslag van sowat 40 meter wéér onder die pale oor is, vir Keyser om te verdoel. Die televisieskeidsregter het bevestig dat daar nie obstruksie in die agterlynbeweging was nie.

WHS is egter verder op die agtervoet geplaas deur geel kaarte vir skrumskakel Tyrese de Wee (27ste minuut, professionele oortreding) en kort ná rustyd ook vir haker Rossouw. Laasgenoemde is deur die TV-skeidsregter raakgesien toe hy ’n boorvat uitgevoer het.

Die tweede helfte was nog skaars aan die gang, toe WJ Otto weer aan die steelkant deurgebreek het. Aan sy binnekant was die slot Pieter Daan Kok op volle vaart en het deurgenael pale toe sonder dat iemand aan hom kon raak (27-7).

Tsumeb se skrumskakel Christin Opperman het die volgende spyker ingeslaan toe sy voorspelers WHS met ’n tweede beurpoging teruggeskrum het. Opperman het die bal gesteel en deurgenael vir ’n drie wat vreemd genoeg onverdoel gebly het.

Op 32-7 was daar geen pad terug vir WHS nie, hoewel die ligbloues hard probeer het. ’n Geel kaart vir die Tsumeb-stut Tinus (Tiny) van Wyk het WHS op die aanval geplaas vir ’n dryfdrie deur stut Iyambo Tshuuya, terwyl haker Rossouw vir die laaste drie van die aand oorgebeur het vir Beukes se doelskoppe om die telling beter te laat lyk (32-21).

Die omstandighede van ’n laat rooi kaart vir die vurige Tsumeb-flank Frikkie Engelbrecht sal waarskynlik vandeesweek deur die skool se verteenwoordigers betwis word, omdat hy dan moontlik nie in die eindstryd sal mag speel nie.