Namibia Rugby
News Report

Walvis oorleef naelbytstryd

Author: Andrew Poolman, 19/06/19

'n Afdag teen begeesterde opposisie kan enige rugbyspan in die Momentum onder 19 premierliga duur te staan kom.

Hierdie boodskap is Woensdagmiddag landwyd uitgestuur toe De Duine hom sommer behoorlik teëgesit het teen die kusdorp se meer ervare buurspan, Namib Diesel Walvisbaai Privaat Hoërskool.

In De Duine se terugkeerseisoen na die land se hoogste liga het hy reeds 'n paar groot pakke op die lyf geloop, maar dié keer moes Walvisbaai alles uithaal om met 'n sege van 32-25 weg te kom.

De Duine het 'n bonuspunt ingepalm te danke aan die neerlaag met minder as tien punte, terwyl die Naartjies twee bonuspunte byvoeg omdat hy meer drieë gedruk het (vier teen drie).

“Dit was 'n harde wedstryd en ek is baie beïndruk met my spelers,” sê De Duine se afrigter, Karl Cookson.

“Ons ontwikkeling en verbetering deur die loop van die seisoen is vir my belangriker as die uitslag op die telbord,” het hy opnuut beklemtoon.

“Ek dink ons kon gewen het as een of twee beslissings van die skeidsregter anders was. Ons het byvoorbeeld die laaste 15 minute met een speler minder klaargekom toe hy op 'n rooi kaart vir 'n boorvat besluit het – hoewel ons speler die man vir wie hy omgedop het, veilig op die grond neergesit het.

“In die geheel is ek baie trots op ons spelers wat hulle goed van hul taak gekwyt het.”

Walvisbaai se afrigter, Quinton Simon, sê De Duine het 'n ongelooflike vertoning gelewer en het sy manne deurgaans onder druk gehou.

“Die Naartjies het gewis al beter gespeel as Woensdag, maar hierdie is vir ons 'n wekroep om terug aarde toe te kom,” was sy opsomming na aanleiding van sy span se vorige drie uitslae waarin OK Foods Moria (op Walvisbaai) en Samsung WHS (by FNB Vegkop) geklop is, voor 'n nael­skraapse tuisneerlaag met 12-15 teen die onoorwonne voorloper Rubicon Tsumeb Gimnasium.

Vanweë oosweer is die wedstryd in hitte van 34 grade Celsius gespeel, het Simon opgemerk.

Die wenspan se vier drieë het van slot Neil Brand, vleuel Jivino Polster, flank Divan van Vreden en reserwe-agterspeler Keanu Gonteb gekom. Polster en los­skakel Scott Winborn het die skoppunte gedeel.

De Duine se driedrukkers was vleuel Keanu Daniels, senter Jade Visagie en losskakel Algirnon Kolz. Die plaasvervanger-losskakel Bevan Coetzee en stut Jay Jay Dentlinger het met skoppe pale toe geslaag.

Republikein