Namibia Rugby
News Report

WHS Koedoebulle draai krane oop ná rustyd

Author: Tielman van Lill, 29/06/19

Samsung Windhoek Hoërskool se eerste rugbyspan se oorwinning met 60-8 Saterdag op sy FNB Vegkopstadion in sy Momentum o.19 premierligawedstryd teen Pupkewitz Haval Elnatan het hom met 36 ligapunte 'n

Die besoekers het by die FNB Vegkopstadion 'n goeie vertoning in die eerste helfte gelewer om rustyd op 3-3 asem te gaan skep.

Ongelukkig moes die suidemanne weereens in die tweede helfte toesien hoe hul opponente met die wedstryd weghardloop. In verweer van Elnatan moet genoem word dat hulle 'n rits beserings tydens die botsing opgedoen het wat hul ritme versteur het, terwyl een van hul topspelers ook uitstedig was.

Die WHS Koedoebulle van hoofafrigter Henry Kemp begin ná net 90 sekondes verstreke in die tweede helfte met hul blitzkrieg en druk binne agt minute vyf drieë om met 36-3 voor te loop. Hoewel Elnatan verbete terugveg, sukkel sy voorspelers om genoeg agtereenvolgende bewegings van stapel te stuur en verloor twee kere die bal binne vatafstand van die doellyn.

Erik Strauss, slot en kaptein van WHS wat vir ses weke met 'n besering gerus het, maak met 15 minute oor sy verskyning van die bank af om sy gebruiklike stempel af te druk.
Onder leiding van JC Rosouw, instaankaptein van die Koedoebulle wat Saterdag in sy 50ste wedstryd vir die eerste span op die veld gedraf het, maal die blou meul voort en die haker vier sy 50ste botsing met sy eie vyfpunter.

Die gasheerspan teken 'n verdere 24 punte vir sy sestigtal aan. Die besoekers word egter nie daardeur van stryk gebring nie en sy sesflank, Rudi Liebenberg, val met ses minute tot hul beskikking in die hoekie vir sy span se enigste drie oor.

MIN DIEPTE

Elnatan was gelukkig om Liebenberg betyds van die o.16 Grant Khomaweek in Suid-Afrika vir dié kragmeting terug te kry, want sy onderkaptein DP de Jager, nog 'n sterspeler van Stampriet, is afwesig as spanlid vir die SA o.18 Akademieweek wat vandag begin.

Die besoekers verloor Corné Esterhuyzen, hul buitesenter en kaptein, kort ná rustyd met vermoedelik harsingskudding. Kort nadat Esterhuyzen af is, vertrek hul heelagter Josua Samson met 'n gebreekte neus en agtsteman Hennie Nel met knieligamente wat lol.

Wessel Pienaar, hoofafrigter van Elnatan, sê hulle het net 20 spelers tot hul beskikking, maar het moed vir die toekoms.

“Ons het Saterdag in die eerste helfte regtig baie goed gedoen en uitstekende rugby gespeel om rustyd met drie punte elk gelykop te wees. In die tweede helfte het ons skielik 'n klomp beserings gehad wat ons bietjie geknou het.

“Ek dink ons spelers het goed gedoen en kan in die toekoms net beter vaar. Daar is baie jong manne wat volgende jaar en die jaar daarna vir ons in die eerste span kan speel om meer kompeterend te wees,” het die breier verduidelik.

Veertien van Elnatan se spelers wat tans in eerste span speel, sal volgende jaar nog op die skoolbanke sit en in 2021 sal elf van dieselfde groep eers in graad 10 wees.

Henry Kemp, hoofafrigter van WHS, was openhartig met sy be­skouing van beide spanne.

“Ek dink ons was bietjie gelukkig, want ons is nie soveel beter as Elnatan nie en die telling weerspieël nie wat regtig gebeur het nie.
“Ons het wel die wen nodig gehad, maar ek is verbaas dat dit met so 'n hoë telling was. Toe Erik in die tweede helfte opgekom het, het hy en JC uitstekend gekombineer en dit het vir ons gewerk.

“Wat ná rustyd gebeur het, kan ek nie werklik verklaar nie. In die eerste helfte was daar 'n klomp geleenthede wat verlore gegaan het. Ek dink die spelers was meer gefokus en het elke kans aangegryp om punte aan te teken met bewegings wat reg verloop het. Die manne het volgens die wedstrydplan gespeel en dit het vrugte afgewerp,” het Kemp gesê.

Vir WHS gaan druk JC Rossouw, Forche Windstaan, Tyreese de Wee, Emil Weder, Zian van Wyk, Keanan Walters (plaasvervanger) en Patrick Karstens (2) die span se agt drieë. Raschano van Rooi tref met sewe doel- en twee strafskoppe.
Elnatan se punte kom van 'n drie deur Rudi Liebenberg en strafskop deur Corné Esterhuyzen.

• By Affiespark het die verdedigende kampioenspan, KMC/JCC Windhoek Affies, met 26-12 teen Namib Diesel Walvisbaai Privaat Hoërskool gewen.
Met vier drieë teen twee het die tuisspan ook die twee bonuspunte ingepalm wat so op die spel was.

Affies se afrigter, Johan Zaayman, sê: “Dit was 'n fantastiese dag, met goeie sportmangees en fantastiese vriende. Dit is rêrig lekker om sport te kan speel en geen onderonsies op óf van die veld te hê nie.

“Ons weet Walvis het 'n paar spelers uit gehad, maar hulle het vir seker gekom om te wen. Die Naartjies het hulle goed van hul taak gekwyt.

“Dit was nie ons beste wedstryd van die jaar nie, maar 'n wen bly belangrik. Wat het Dok Craven altyd gesê – die liga word nie in Junie gewen nie. Ons het 'n jong span, maar die wil om te presteer, is vir seker daar. Ek is trots op my seuns.”

Die WAP-driedrukkers was Bernhardt Wessels, De Wet Oosthuizen, Louis Karsten en Jeandre Loubser, terwyl Keanu Engelbrecht met drie doelskoppe geslaag het.

• In 'n derbystryd by die kus het PSG Pro-Ed Akademie met 31-3 teen De Duine gewen.

Republikein