Heelagter André Siepker se akkurate stelskopwerk pale toe en koelkop algemene spel was ’n deurslaggewende faktor in die heersende titelhouer KMC One Construction Windhoek Affies se naelskraapse oorlewing met 21-20 in die semifinaal teen Samsung Windhoek Hoërskool.
Windhoek Affies sal dus komende naweek in die Standard Bank o.19 Superliga-eindstryd opgeweeg word teen Schoemans-groep Windhoek Gimnasium, wat die vorige aand met sewe drieë teen een (50-8) verby OK Foods Moria van Outjo gestorm het.
Vir Gimnasium was sy losskakel JW Visagie, wat in sommige vorige wedstryde gesukkel het met sy akkuraatheid pale toe, uitstekend op dreef met ses doelskoppe en een strafdoel – hoewel beide hy en Siepker oënskynlik met hul heel maklikste pogings van die dag kleigetrap het.